Prins Souphanouvong (13 Julie 1909 - 9 Januarie 1995), saam met sy halfbroer prins Souvanna Phouma, en prins Boun Oum van Champasak, was een van die "Drie Prinse" wat onderskeidelik die kommunistiese (pro-Viëtnam), neutrale en rojalistiese politieke faksies in Laos verteenwoordig het. Hy was die nominale president van Laos van Desember 1975 tot Augustus 1991.
Souphanouvong was een van die seuns van prins Bounkhong, die laaste onderkoning van Luang Prabang. Anders as sy halfbroers, Souvanna Phouma en Phetsarath Ratanavongsa, wie se moeders koninklik gebore is, was sy ma Mom Kham Ouane, nie adelik nie.
Hy is opgelei in Frankryk en Viëtnam en word uiteindelik 'n voorstander van Ho Chi Minh en sluit aan by die Indochinese kommunistiese beweging. In Augustus 1950 belê Souphanouvong die eerste kongres van die Lao Freedom Front (Neo Lao Issara), meer algemeen bekend as die Pathet Lao, wat gedien het as die voertuig vir die kommunistiese uitdaging aan die Franse regering. Hy was die voorsitter van die Neo Lao Issara (sedert 1956, Neo Lao Hak Xat) en die weerstandsregering.
Met die bynaam "Die Rooi Prins", word hy die leier van die Volksrevolusionêre Party van Laos, en na die suksesvolle oorname van mag in 1975 word hy die eerste president van die Demokratiese Volksrepubliek Lao, 'n posisie wat hy tot 1991 beklee het. Na 1986 tree Phoumi Vongvichit in sy plek op as president, hoewel Souphanouvong tegnies nog steeds president bly. In 1991 volg Kaysone Phomvihane hom op as president. Hy was die President van die Hoogste Volksvergadering van 1975 tot 1988.
In 1991 word hy 'n adviseur van die party se sentrale komitee. Souphanouvong is op 9 Januarie 1995 op die ouderdom van 86 jaar oorlede.
Souphanouvong het agt tale gepraat, waaronder Grieks en Latyn. Hy het in die hawens van Le Havre gewerk voordat hy vir 'n ingenieursgraad aan die École nationale des ponts et chaussées gestudeer het.