ʼn Yskas of koelkas bestaan uit ʼn termiese geïsoleerde kompartement en ʼn hitte-pomp, wat hitte vervoer vanaf die binnekant van die yskas na die buitekant. Sodoende bly die yskas koel en behou ʼn temperatuur onder die gemiddelde kamertemperatuur. Om kos in ʼn yskas te bêre verlaag ook die kans van reproduksie van bakterieë, so bly kos ook langer eetbaar.
Wanneer 'n elektriese verwarmer aangeskakel word, word dit gou rooiwarm en straal hitte uit. Maar wanneer die elektriese yskas of vrieskas aangeskakel word, word die teenoorgestelde resultaat verkry: die temperatuur daal tot benede die vriespunt.
'n Elektriese stroom wat regstreeks gebruik word, lewer net hitte; in ʼn yskas word elektrisiteit net gebruik om die kompressor aan te dryf.
Die rede hoekom dit binne ʼn yskas kouer is as buite kan as volg uiteen gesit word:
In die yskas word sekere chemiese stowwe gebruik wat by normale druk en kamertemperatuur in gasvorm verkeer. Hul eienskappe is egter sodanig dat hulle maklik saamgepers en afgekoel kan word om hulle in vloeistowwe te laat verander.
Voorbeelde van hierdie chemiese stowwe is Freon (dichloor-difluoormetaan, CCl2F2), swaweldioksied (SO2), ammoniak (NH3) en metielchloried (CH3Cl). Hierdie chemiese stowwe word koelgasse genoem. In die yskas sirkuleer hulle deur pype waarin hulle verander van 'n vloeistof in 'n gas; wanneer hierdie verandering plaasvind, trek hulle hitte uit die binnekant van die yskas en koel dit sodoende af.